'N klein versugting af en toe is seker oukei. Ek sit hier voor my huis in die son met 'n luggie wat ampertjies byt. Ek verbeel my 'n soortgelyke windjie oor my lyf op plekke in die Karoo - miskien Loxton, Vosburg, Carnarvon; selfs Beaufort-Wes. Die bossies daar ruik na Karoo en die laventel se pers lyk anders as die een wat mens in die Boland sien. Die luggie sny soms ook dieper. Ek mis dit.